Search This Blog

Monday, February 15, 2010

Die Afrikaanse Taal

Inleiding

Daar bestaan 'n taal in Suider-Afrika wat soos geen ander taal die vermoë het om hierdie deel van die wêreld te beskryf, wat die denkwyses van Afrika en Europa in hom verenig en fier die kontinent van sy ontstaan in sy naam dra: Afrikaans!

Hoe het Afrikaans ontstaan?

Na die stigting van Kaapstad in 1652 het Afrikaans uit 17e-eeuse Nederlands ontwikkel. Die seelui en beamptes van die Verenigde Oost-Indische Compagnie, wat uit verskillende dialekgebiede van Nederland, Vlaandere en Duitsland afkomstig was, is gou vergesel deur setlaars uit Frankryk asook deur slawe en bediendes uit Madagaskar, Ceylon, Java en ander Oosterse lande. Die koloniste het ook in aanraking gekom met inheemse Khoi-stamme, in die volksmond "Hottentotte" genoem. Deur die vermenging van dialekte en die invloed van die gebroke Hollands van vreemdtaliges is 'n ontwikkeling aan die gang gesit wat die verskille tussen die taal van Nederland en dié van die Kaap al hoe groter laat word het. Teen die tyd dat die Britte die Kaap-Kolonie in 1814 geanekseer het, het 'n nuwe afsonderlike taal ontstaan wat toe nog die naam Kaaps-Hollands gedra het. In die middel van die 19e eeu verskyn die eerste boeke in Afrikaans: godsdienstige tekste van die slaamse Maleiers in Arabiese skrif.

Persone wat ‘n belangrike rol gespeel het in die ontstaan…

Die Nederlandse onderwyser Arnoldus Pannevis word deur baie as die Vader van die Afrikaanse taal beskou. Dit was by hom dat die gedagte ontstaan het om Afrikaans as skryf- en leestaal aanvaar te kry. C.P. Hoogenhout, Ds. S.J. du Toit, D.F. du Toit (Oom Lokomotief), D.F. du Toit, Gideon Malherbe, Ds. August Ahrbeck, S.G. du Toit, Petrus Malherbe en Gustav Preller het ook ‘n deel gehad in die ontstaan van Afrikaans.

Genootskap van Regte Afrikaaners

Die Genootskap van Regte Afrikaners is op 14 Augustus 1875 in die dorp Paarl gestig deur 'n groep Afrikaanse sprekers van die Wes-Kaap omgewing. Die genootskap het vanaf 15 Januarie 1876 'n joernaal genaamd die Die Afrikaanse Patriot, asook verskeie boeke soos woordeboeke, geestelike materiaal en geskiedenisboeke gepubliseer. Die Afrikaanse Patriot was in 1905 opgevolg deur die hedendaagse Paarl koerant.

Ontwikkeling van Afrikaans

Die wonder van Afrikaans is dat dit nie gestagneer het as´n mengsel van´n klomp verskillende tale nie. Dit het ontwikkel tot´n selfstandige taal met´n eie dinamiese karakter. Nuwe woorde word nog daagliks geskep om die alledaagse op´n eerlike, naïwe en aardse manier uit te druk. Dit is dié skeppende eienskap van Afrikaans wat in´n rekordtyd´n nuwe taal met´n internasionaal bekende letterkunde moontlik gemaak het.

Iets oor die Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmonument is die enigste monument ter wêreld wat aan 'n taal gewy is. Dit is gebou op 'n heuwel bokant die Paarl in die provinsie Wes-Kaap in Suid-Afrika. Die monument is in 1975 voltooi om die halfeeu te gedenk van die amptelike erkenning van Afrikaans as 'n selfstandige taal afsonderlik van Nederlands. Die monument bestaan uit verskillende groter wordende strukture van 'n konvekse en konkawe aard, wat die invloede van verskillende ander tale en kulture, asook politieke ontwikkelings in Suid-Afrika, op Afrikaans simboliseer.

Slot

Die 6,5 miljoen mense wat Afrikaans as moedertaal gebruik, word in groot getalle aangetref in elkeen van Suid-Afrika se nege provinsies asook in Namibië. Klein groepies Afrikaanssprekendes is ook te vinde in Botswana, Zimbabwe, Zambië en ander lande ten noorde van die Limpopo. Afrikaans is dus wyer oor Suider-Afrika versprei as enige ander inheemse taal. 'n Verdere 12 miljoen mense gebruik dit as tweede of derde taal, wat beteken dat Afrikaans, meer as Engels of Zulu, die belangrikste omgangstaal in Suid-Afrika is.

No comments:

Post a Comment